Abstract:
Die groeiende gebruik en wye strekking van tegnologie gedurende die afgelope
paar jare, het 'n nuwe tipe bewysmateriaal geskep wat in beide siviele en
kriminele sake gebruik word: sogenaamdedigitale bewysmateriaal.
Soos tegnologie verander moet die reg ook verander. Die reg moet aanpas om
by te hou met die konstante veranderinge van tegnologie. Weens die mens se
daaglikse afhanklikheid van tegnologie, en die groter invloed daarvan in siviele
en kriminele aangeleenthede, word besondere uitdagings geskep vir die
tradisionele reëls van die hedendaagse Suid-Afrikaanse bewysreg. Die
regulering, verkryging en bewaring van digitale bewysmateriaal veroorsaak 'n
leemte in die bestaande Suid-Afrikaansereg.
Om digitale data se gebruik as bewysmateriaal in 'n Suid-Afrikaanse hof te
vergemaklik moet die Suid-Afrikaanse reg met verwysing na digitale data
verander. Die effektiewe bewaring van digitale data, wat ook die integriteit en
oorspronklikheid daarvan sal verseker, moet na gekyk word. Weens die aard van
rekenaar-genereerde en digitale bewysmateriaal word dit as broos beskou. Dit
kan maklik verander en onttrek word en is moeilik om 'n onderskeid te tref tussen
die oorspronklike en kopieë daarvan. Die bewaring en dokumentering van
digitale bewysmateriaal vereis daarom spesiale aandag. Nuwe tegnieke en
prosedures word vereis en moet ontwikkel word sodat dit gebruik kan word om
die behoud van die integriteit van die digitale data te kan verseker.
Die Suid-Afrikaanse reg met betrekking tot digitale bewysmateriaal word tans
grotendeels gereguleer deur die Elektroniese Transaksies en Kommunikasie Wet
25 van 2002. Hierdie wetgewing is baie wyd geformuleer en bevat geen definisie
van digitale bewysmateriaal nie. Die wetgewing skryf ook nie die nodige tegnieke
en prosedures wat toegepas moet word om die integriteit van digitale
bewysmateriaal te verseker voor nie.
Hierin word 'n studie gedoen van die reeds bestaande regsreëls en regulasies
van toepassing op digitale bewysmateriaal in beide die Suid-Afrikaanse en
Amerikaanse regstelsels. Die Amerikaanse regstelsel het verskeie wetgewing,
regspraak en institusionele reëls en regulasies wat die gebruik van digitale data
as bewysmateriaal vergemaklik. Hierdie wetgewing, regspraak en institusionele
reëls en regulasies maak wel voorsiening vir spesifieke tegnieke en prosedures
wat gevolg moet word gedurende 'n ondersoek na digitale bewysmateriaal deur
rekenaar forensiese inspekteurs om die integriteit van die digitale data te
verseker. Daarna word 'n regsvergelyking gedoen tussen die twee regstelsels om
moontlike oplossings te lewer vir die probleem wat tans ervaar word in Suid-
Afrika met betrekking tot die gebruik van digitale data as bewysmateriaal in 'n
Suid-Afrikaansehof.