"All things bright and beautiful" – children singing the apostolic creed
Abstract
Die kerk het oor die eeue heen van liedere gebruikgemaak om teologiese waarhede oor te dra
aan volgelinge. Hierdie proses het ook plaasgevind in die godsdienstige onderrig van kinders.
Kinderkerkliedere raak veral in die 19de eeu in Brittanje toenemend toegespits op kinders se
vermoëns om teologiese begrippe en Bybelse kennis te kan verwerk. In hierdie artikel word die
oordrag van kennis van die apostoliese geloofsbelydenis, soos dit voorkom in drie liedere uit CF
Alexander se Hymns for Children (1848), ondersoek. Daar word geargumenteer dat Alexander se
benadering verskil van dié van vorige kinderliedere deurdat dit nie net konsentreer op oordrag
van kennis (in hierdie geval die geloofsbelydenis) nie, maar ook aanspraak maak op die spirituele
belewenis van die kind. Spiritualiteit word verstaan as ’n besondere vlak van bewustheid van die
werklikheid en oomblikke van verwondering, opgewondenheid en verbeelding soos uiteengesit
deur die Nye en Hay. Die gevolgtrekking is dat die digter deur gebruik van eenvoudige taal
en beelde wat aan die kind bekend is, aansluiting vind by die kind se verwysingsraamwerk en
spirituele vermoëns. Dit dra daartoe by dat oordrag van teologiese kennis in die Hymns for little childen plaasvind deurdat die belewenis en ervaring van die betrokke aanhalings uit die
geloofsbelydenis geïntensiveer word. Terselfdertyd gee dit aan die kind die geleentheid om sy/
haar spiritualiteit uit te leef deurdat ’n besondere bewustheid van die werklikheid, soos verwoord
in die lied, aangemoedig word en aspekte van spiritualiteit soos verwondering en verbeelding
beleef en ontwikkel word.