Abstract:
Daar word daagliks probleme ondervind met oneerlikheid binne die
werksplek. Werkgewers gebruik toenemend poligraaftoetse om vas te
stel of werknemers oneerlik was rakende 'n spesifieke voorval of om
voornemende werknemers te toets ten einde te bepaal of die persoon 'n
eerlike geaardheid het al dan nie.
Die doel van die skripsie is om 'n kritiese oorsig te gee van die
wetenskaplike basis waarop poligraaftoetse gebaseer word, met
spesifieke verwysing na die geldigheid, betroubaarheid en status van die
toets. Die gebruik van poligraaftoetse binne die werksplek word
geanaliseer met verwysing na relevante literatuur en wetgewing,
waaronder die Grondwet asook tersaaklike hofuitsprake.
Poligraaftoetse is ook bekend as die psigofisiologiese vasstelling van
oneerlikheid. Psigofisiologie word gedefinieer as die studie van die
verband tussen fisiologiese en psigologiese prosesse. Verskeie tegnieke
bestaan, waarvan die belangrikste die sogenaamde Kontrolevraagtoets
is. Hierdie toets meet die toetspersoon se verskillende fisiologiese
reaksies op kontrole- en relevante vrae en het as uitgangspunt dat 'n
persoon wat onskuldig is aan 'n sekere voorval groter fisiologiese
reaksie sal toon op die kontrolevrae as op die relevante vrae, en
omgekeerd.
Die meeste poligraaftoetse het dit gemeen dat ten minste drie
fisiologiese reaksies gemeet word, te wete polsslag, asemhaling en
elektrodermiese reaksies. Daar is in wese twee denkrigtings rakende die
akkuraatheid van poligraaftoetse, die wat betoog dat die toetse akkuraat
is en gebruik kan word ten einde vas te stel of 'n persoon oneerlik is en
die wat betoog dat dit onakkuraat is en nie gebruik behoort te word nie.
Uit 'n studie van die relevante literatuur rakende die geldigheid en
betroubaarheid van die poligraaftoetse blyk dit dat verskeie faktore 'n
negatiewe invloed daarop het en dat die toets nie toets wat dit voorgee
om te toets nie. Daar is ook bevind dat poligraaftoetse nie voldoen aan
die vereistes wat deur huidige wetgewing gestel word nie.
Die gebruik van poligraaftoetse maak moontlik inbreuk op individue se
grondwetlike regte, soos privaatheid en billike arbeidspraktyke.
Probleme rakende die bewysregtelike toelaatbaarheid van
poligraaftoetse bestaan.
Daar word aanbeveel dat die gebruik van poligraaftoetse binne die
werkplek nie toegelaat behoort te word tensy dit wetenskaplik behoorlik
gefundeer is nie en dat daar aandag gegee behoort te word aan beter
regulasie rakende die gebruik van die toetse.