'n Tragikomiese moeder-seun relaas : die manifestasie van die burleske in Sprakeloos (Lanoye) en Moedervlekken (Grunberg)
Abstract
Die wyse waarop lesers 'n verhalende teks interpreteer, ten einde singewing te laat geskied en verwagtingshorisonne te verbreed, word grootliks beïnvloed deur die skrywer se hantering van die narratief. In hierdie studie word die diskrepansie tussen twee Nederlandse romans - Sprakeloos (Tom Lanoye, 2009) en Moedervlekken (Arnon Grunberg, 2016) - ondersoek. Hierdie teenstrydigheid word teweeggebring deur die oorwegend tragiese narratief, wat ontstaan het weens die intens persoonlike inhoud van die tekste, en die oordrewe, grappige en dikwels platkomiese stylhantering daarvan. Die gewigtige temas in Sprakeloos en Moedervlekken setel in die langdurige lydingsproses van 'n moeder en die intense identiteitswroegings van die hoofpersone. Hierdie tragikomiese moeder-seunverhoudings, wat in die twee romans waargeneem word, asook dit wat rondom hierdie verhoudings afspeel, resoneer sterk binne die groter, ouer ruimte van die burleske. Die burleske, wat deur 'n inhoud-stylambivalensie gekenmerk word, en die humormodi wat daaraan verbonde is (karikatuur, die groteske, parodie en travestie), onderlê hierdie inhoud-stylmanifestasie. Die soeklig val in hierdie studie veral op die humoristiese, dog tragiese wyse waarop die magteloosheid van die mens, in die aangesig van uitdagings buite sy/haar beheer, uitgebeeld word. Die lag dien as 'n pleitbesorger vir ernstige aangeleenthede soos genadedood en terselfdertyd as 'n kommunikasiestrategie ten einde onderwerpe soos selfdood en kwessies rondom seksuele oriëntasie te verwoord. In hierdie studie vind 'n chronologiese progressie ten opsigte van verskeie kunsbeskoulike raamwerke plaas: vanaf die ouer (literêre) begrippe, soos die burleske en die Stoïsisme, tot die nuwe perspektiewe wat daarop gebied word en resente romans waarin dit manifesteer. Die klemplasing verskuif ook vanaf die metatekstuele fokus en die oorwegend outobiografiese feitemateriaal in Sprakeloos (2009) na die meer fiksionele Moedervlekken (2016) en, eindelik, van die spraaksame viering van vitaliteit deur beide hoofpersone se moeders, na die onvermydelike tragikomiese, stil eindes. Die gevolgtrekking word bereik dat humor eufemisties in die onderhawige romans fungeer om moeilike onderwerpe, soos (self)dood, lyding, oudword, spraakverlies, seksualiteit en identiteitskwessies te verken.
Collections
- Humanities [2671]