'n Ondersoek na die holistiese ontwikkeling van die Grondslagfase-leerder sedert 1998
Abstract
Luidens Witskrif 5 oor Vroeë Kinderontwikkeling (SA, 2001) behoort leerders in die Grondslagfase holisties onderrig te word. Die holistiese ontwikkeling van leerder s in die Grondslagfase sluit in fisieke, emosionele, kognitiewe, geestelike, morele en sosiale ontwikkeling (SA, 2012a:8). Suid-Afrika se huidige nasionale skoolkurrikulum word die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidverklaring (KABV) genoem. Die KABV bepaal dat Grondslagfase-leerders in die vakke Wiskunde, Huistaal, Eerste Addisionele Taal en Lewensvaardigheid onderrig moet word, maar assessering vind slegs in wiskunde en taal plaas. Kwartaalliks word hoë eise aan onderwysers gestel ten opsigte van assesseringstake in wiskunde en taal wat op sekere tye afgehandel moet word. Al die onderrigtyd word dus aan wiskunde- en taalonderrig gewy. Onderwyseresse gebruik noodgedwonge weekliks tyd van Lewensvaardigheid om aan die vereistes te voldoen. In die KABV bestaan Lewensvaardigheid uit vier studie-areas, naamlik Aanvangskennis, Persoonlike en Sosiale Welstand, Skeppende Kunste en Liggaamlike Opvoeding. Aanvangskennis se tydstoedeling is twee ure per week en sluit sosiale wetenskappe in, soos bewaring, verhoudinge en diversiteit. Natuurwetenskap behels lewe, die planeet Aarde en materie. By Aanvangskennis word tegnologie ingesluit wat prosesse soos ontwerp, ondersoek en selfkommunikasie insluit (SA, 2012a:5). 'n Ander komponent van Lewensvaardigheid is Persoonlike en Sosiale Welstand, met 'n tydstoedeling van slegs een uur per week, en ook kreatiewe kunste en fisieke ontwikkeling. Agt ure is aan Huistaal toegeken, drie ure aan Eerste Addisionele Taal, en sewe ure aan Wiskunde. In die KABV (SA 2012a:5) se voorwoord word na die holistiese ontwikkeling van leerders verwys. Volgens Berk (2012:78) beteken holisme die integrasie van die hele persoon, naamlik fisiek, geestelik, sosio-emosioneel asook sy/haar kognitiewe vermoëns. 'n Holistiese benadering lei leerders tot selfverbetering waar hulle meer krities, vol selfvertroue en onafhanklik optree (Patel, 2003:16). Uit literatuur en praktyk blyk dit dat die holistiese ontwikkeling van die leerder gedurende die Grondslagfase onmiddellike en langtermyn resultate het. Volgens die eise van die huidige onderwysstelsel word meer klem in die onderrig op wiskunde en tale gelê - met ander woorde, hoofsaaklik kognitiewe ontwikkeling (Barnes, 2011:298). Die jaarlikse nasionale assessering (ANA) en sistemiese assessering van graad 3-leerders elke derde jaar word slegs in wiskunde en taal gedoen en die fokus van die Departement van Basiese Onderwys is dus hoofsaaklik op kognitiewe ontwikkeling. Die doel van die navorsing was: 1. om te bepaal hoe leerders in die Grondslagfase sedert 1998 holisties ontwikkel word; 2. om te bepaal of die huidige nasionale kurrikulum die nodige riglyne voorsien vir die holistiese ontwikkeling van die Grondslagfase-leerder; en 3. om die invloed van “paideia" op die kurrikulum ten opsigte van die holistiese ontwikkeling van die leerders sedert 1998 te bepaal. Ten einde bogenoemde vrae te beantwoord is kwalitatiewe empiriese navorsing uitgevoer deur middel van oopeind-oopeind-vraelyste met hoofde, onderwysers en vakadviseurs en onderhoude met Departementshoofde in die Kenneth Kaunda-distrik. Fenomenologies is hierdie studie vanuit 'n krities-interpretivistiese lens uitgevoer en deelnemers met onderwysondervinding sedert 1998 is geselekteer. Die literatuur handel oor holisme en die kurrikulum sedert 1998. Die empiriese ondersoek het ses primêre skole ingesluit. Drie onderwysers wat graad 1- tot 3-leerders onderrig asook die skoolhoofde en departementshoofde van elke skool het aan die studie deelgeneem. Voortspruitend uit die kwalitatiewe navorsing is die gevolgtrekking gemaak dat leerders in die praktyk nie holisties ontwikkel word nie vanweë verskeie faktore wat in die studie genoem word. Die kurrikulum, onderwysstelsel en eise wat aan die onderwysers gestel word bemoeilik holistiese ontwikkeling. Onderwysers het voorts nie tyd vir Lewensvaardigheid nie en weet nie hoe om die leerders holisties te stimuleer nie. Aanbevelings is dat administratiewe eise en assessering verminder moet word en dat daar na die kurrikulum gekyk moet word sodat die klem nie te veel op die kognitiewe val en die res van die leerder se holistiese ontwikkeling agterweë bly nie.
Collections
- Education [1686]