Beregting van konstruksiegeskille kragtens die FIDIC Red Book
Abstract
Die konstruksiebedryf speel 'n onontbeerlike rol in beide ontwikkelde en ontwikkelende lande. Die belangrikheid daarvan kan nie net toegeskryf word aan die grootte van die konstruksiebedryf en bydrae wat dit lewer in sosiale ontwikkeling nie, maar ook die impak wat dit het op en die rol wat dit speel in die ontwikkeling van 'n land se ekonomie. As gevolg van die kompleksiteit van konstruksieprojekte, tydperk wat dit neem vir die voltooiing daarvan, hoeveelheid dokumentasie, en betrokkenheid van 'n groot aantal professionele individue, is dispute in die konstruksiebedryf byna onafwendbaar. Vir doeleindes van die beslegting van dispute het die behoefte aan die gebruik van alternatiewe dispuutoplossingmetodes drasties toegeneem. Dit volg vanweë die formalistiese struktuur, prosedurele vereistes en hoë kostes verbonde aan arbitrasie en litigasie. Die konstruksiebedryf het 'n metode genoodsaak wat in staat is om dispute beide vinnig en doeltreffend op te los. Dit het gelei tot die bekendstelling van kontraktuele beregting, deur die CIDB, in die Suid-Afrikaanse konstruksiebedryf. Die nadeel verbonde aan die beoefening van beregting in Suid-Afrika hou verband met die feit dat dit nie onderlê word aan die hand van 'n statutêre raamwerk nie. In die lig hiervan het die CIDB konsepregulasies voorgestel ten einde 'n statutêre raamwerk daar te stel vir doeleindes van die regulering van beregting, asook om dit 'n verpligte dispuutoplossingmetode in die Suid-Afrikaanse konstruksiebedryf te maak. Die regulasies is egter nog nie van krag nie en is dit hangend die finale goedkeuring deur die Minister van Openbare Werke. Hierdie studie tref 'n vergelyking tussen die beregtingsprosedure in terme van die CIDB Beregtingsprosedure, konsepregulasies en FIDIC Rooi Boek ten einde te bepaal in watter mate sodanige prosedures van mekaar verskil. Die doel met die vergelyking is om te bepaal of die FIDIC Rooi Boek bystand sal kan verleen in die ontwikkeling van die konsepregulasies sou daar bevind word dat dit gebrekkig is. Met verwysing na die konsepregulasies bestaan daar aansienlik baie kritiek teen sodanige bepalings. Die studie het bevind dat die konsepregulasies nie voldoende sal wees vir doeleindes van die regulering van beregting en effektiewe dispuutoplossing in die Suid-Afrikaanse konstruksiebedryf nie. Die FIDIC Rooi Boek het 'n merkwaardige rol gespeel in die ontwikkeling, wysiging en uitbreiding van die konsepregulasies ten einde 'n doeltreffende statutêre raamwerk te voorsien om beregting te onderlê.
Collections
- Law [826]