The development of a tourism curriculum evaluation model for secondary schools
Abstract
Toerisme word vandag as een van die vinnig groeiende bedrywe in die wêreld
gesien. 'n Probleem wat Suid-Afrika egter in die oë staar word saamgevat deur SAT
(Suid-Afrika se Toerismeraad) wat beweer dat toerisme eerstens nie aan die publiek
bekend gestel word nie en dat daar tweedens 'n toerisme-kultuur onder Suid-
Afrikaners ontwikkel moet word. Die Witskrif oor Toerisme verklaar dat toerisme-opvoeding
en opleiding een van die fundamentele pilare is in die ontwikkeling van
nuwe verantwoordelike toerisme in Suid-Afrika. Toerisme-opvoeding kan dus 'n
oplossing wees vir beide die bogenoemde probleme. Toerisme-opvoeding in Suid-
Afrika speel ook 'n belangrike rol in die ondersteuning van toerismeontwikkeling en
die versekering van deurlopende verskaffing van kwaliteit menslike hulpbronne om
aan die oorweldigende vereistes van die bedryf te voldoen.
'n Analitiese ondersoek is geloods om 'n kurrikulum-evaluasiemodel vir toerisme op
sekondêre vlak daar te stel. Die model is gebruik om die kurrikulum te evalueer en
te bepaal wat die effektiwiteit van 'n toerisme-kurrikulum as toerismebewustheidsinstrument
is, asook wat die invloed van die bewustheid op die
toerisme-industrie sou wees.
Uit die literatuurstudie wat gedoen is, het dit duidelik geword dat dit noodsaaklik was
om eers die bestaande toerisme-kurrikulum te evalueer alvorens bepaal sou kon
word of dit 'n doeltreffende toerismebewustheidsinstrument is. 'n Nuwe kurrikulum-evaluasie
model is ontwerp wat 'n kombinasie was van die EPIK-model, oftewel
Evaluerende Program vir lnnoverende Kurrikula, en die model van Zenger & Zenger
vir kurrikulum beplanning. Die model is in die studie gebruik om die kurrikulum te
evalueer en te bepaal hoe suksesvol die doelwitte en doelstellings van die
kurrikulum bereik is. 'n Aantal opvoedingsverbeterings aangaande kurrikula-ontwerp,
skoliere en opvoedkundiges se kwalifikasies en kennis, word bespreek.
Drie vraelyste is ontwikkel, een vir leerders met en sonder toerisme as skoolvak, een
vir ouers wie se kinders toerisme as skoolvak neem en die wat dit nie neem nie. Die
derde vraelys is ontwikkel vir fasiliteerders wat die kurrikulum evalueer. Die
vraelyste is gebruik om die gesindheid en bewustheid van toerisme-leerders teenoor
die toerismebedryf te meet. Die verskil in bewustheid tussen leerders met en sonder
toerisme word ondersoek en die invloede wat leerders het op die reispatrone van
hulle ouers word gemeet. Statistieke is ontleed en weergegee deur middel van
faktorbepaling asook beskrywende resultate.
Die resultaat van die ondersoek het aangetoon dat die kurrikulum suksesvol is om
bewustheid onder leerders te vestig. Die ondersoek het getoon dat 'n groot
probleem die toerismeopvoeding in sekondêre skole in die gesig staar. Die sleutel
dilemma kan beskryf word as die gebrek aan gekwalifiseerde kurrikulum-implementeerders
en fasiliteerders sowel as die beperkte komponente van die
toerismebedryf wat in die kurrikulum opgeneem is. Nog 'n bevinding uit die literatuur
is dat daar min evalueringsmodelle beskikbaar is om kurrikulum-evaluering te doen
en dat daar geen evaluasiemodel vir toerisme bestaan nie.
In die breë is 'n evaluasiemodel daargestel om die toerisme-kurrikulum op
sekondêre skoolvlak te evalueer en te bepaal of die kurrikulum 'n effektiewe
toerismebewustheidsinstrument is.