Bloot ’n vrees vir verval? ’n Mentaliteitsgeskiedenis van die kragonderbrekings in Suid-Afrika, Januarie-April 2008
Abstract
Aan die begin van 2008 was groot dele van Suid-Afrika
geraak deur kragonderbrekings wat sporadies en oor ’n groot gebied vir
115 dae aan die orde was nadat die nasionale kragvoorsieningsinstansie,
ESKOM, gebuk gegaan het onder wat, volgens die media, aan
ongeëwenaarde kragverbruik toegeskryf is.
Die respons van verbruikers in alle samelewingsfere het gewissel van
woede-uitbarstings tot ’n gelate aanvaarding van die toestand. Beskou
vanuit die perspektief van die geskiedenis van mentaliteite, was die
respons simptomaties van ’n kulturele reaksie wat daarop gedui het dat
gewone mense van mening was dat ’n infrastrukturele diens, soos
kragvoorsiening, mos nie net tot stilstand kan kom nie.
In die studie word gelet op die wyse waarop die kragonderbrekings
van Januarie-April 2008 gekaats kan word teen die agtergrond van ’n
andersoortige ervaring van herinneringe wat, nie net in Suid-Afrika nie,
maar ook in ander wêrelddele, manifesteer. In wese kom dit daarop
neer dat daar sprake is van ’n mentaliteitsgeskiedenis wat in die hede
vasgevang is.