Abstract:
Die Wet op Arbeidsverhoudinge het ten doel om die grondwetlike reg van billike arbeidspraktyke
'n werklikheid te maak. In hierdie veld is daar 'n aantal tribunale gestig om die billikheid van aksies
vas te stel.
Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie is gestig na aanleiding van artikel 112
van die WA V. Die KVBA is n onafhanklike statutêre liggaam met regspersoonlikheid.
Werknemers kan hulle na die KVBA wend indien hulle voel dat hulle blootgestel was aan 'n
onbillike arbeidspraktyk of onbillik afgedank is.
In die geval van afdanking spesifiek kan die KVBA die algemene reg van die werkgewer inperk om
die gepaste sanksie vir 'n oortreding te bepaal. Om te bepaal wanneer hierdie reg van die
werkgewer ingeperk kan word, het die Engelse reg die beginsel van 'n "redelike werkgewer"
gebruik. Hierdie maatstaf het daarop berus dat 'n sanksie omgekeer kan word indien 'n "redelike
werkgewer" nie so 'n sanksie sou toegepas het nie.
Daar is egter in die onlangse uitspraak van Sidumo v Rustenburg Platinum Mines bevind dat die
wysiging van sanksies 'n meer objektiewe maatstaf benodig, aangesien die "redelike werkgewer"-
maatstaf net afhang van die mening van die werkgewer en die uitspraak die gevaar loop om
arbitrêr te raak. Die hof het tydens die uitspraak n nuwe maatstaf ontwikkel waarvolgens die
ontslag onafhanklik beskou moet word om die billikheid daarvan te bepaal. In Sidumo het die hof
dus die maatstaf ontwikkel wat 'n "billike ontslag" sou daarstel teenoor die "redelike werkgewer".
Die vraag ontstaan dus of een van hierdie maatstawwe terselfdertyd die werknemer kan beskerm
sonder om oormatig met die werkgewer se reg in te meng.
Om hierdie vraag te beantwoord sal daar eers gekyk word na die regte van die werknemer in terme
van artikel 185 van die W AV en die impak wat die gemenereg steeds op die diensverhouding het.
Die werkgewer en werknemer se teenstrydige regte sal dan opgeweeg word met billikheid wat as riglyn gebruik sal word. Die twee maatstawwe wat die howe in regspraak toepas, sal dan
bestudeer word om te bepaal of die toekenning van die kommissaris albei se teenstellende regte
beskerm. Op grond hiervan sal 'n afleiding gemaak kan word oor die effektiwiteit van die
onderskeie maatstawwe. Aanbevelings sal gemaak word oor watter maatstaf in die Suid-Afrikaanse reg toegepas behoort te word.