Contents

December 2011

Editorial comment


Articles

Editorial

Hulde aan prof. Pieter de Klerk

Prof. Pieter de Klerk (65), vakgroephoof Geskiedenis in die fakulteit Lettere op die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), tree aan die einde van Desember 2011 af.

‘n Gedeelte van hierdie uitgawe van TD Die Joernaal vir Transdissiplinêre Navorsing in Suider-Afrika, word gebruik as ‘n huldigingsbundel vir ‘n kollega wat diep akademiese spore in NWU, veral die Vaaldriehoekkampus, getrap het. Prof. De Klerk het oor ‘n tydperk van sowat 44 jaar baie ervaar en baie mense leer ken. Hy het ook bekendheid verwerf. Al het hy in beskeidenheid en soms bykans onopvallend, sy weg deur die wandelgange en lokale van die universiteit gebaan, was almal bewus van sy liefde vir kennis en meer insig. As akademikus het hy ‘n invloed op die intellektuele vorming van menige student op die voor- en nagraadse vlak gehad.

Hy het ook ‘n geestelik verrykende invloed op kollegas uitgeoefen. Die redaksie van TD het vakgenote in geskiedenis aan ander universiteite in Suid-Afrika gevra om bydraes te lewer. Hulle artikels werp lig op terreine van die Suid-Afrikaanse geskiedenis waarin prof. De Klerk ‘n lewendige belangstelling het. Veral sy interpretatiewe artikels oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis, vanuit die perspektief van die historiografie is ‘n aanduiding van die breë spektrum van sy diepte-kennis. Hy het voortdurend op die voorpunt van nuwe tendense in die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing gebly. As ewekniebeoordelaar van akademiese artikels en aktiewe medewerker op die redaksie van verskeie tydskrifte, onder meer Historia, die amptelike tydskrif van die Historiese Genootskap van Suid-Afrika, het hy waardevolle insette gelewer.

Vir die doeleindes van hierdie bundel is werk gemaak om kollegas in die Skool vir Basiese Wetenskappe aan die NWU Vaal te kry om bydraes te lewer. Ook in hul werk wat hier aangebied word, het prof. De Klerk, regstreeks en onregstreeks, ‘n waardevolle bydrae gelewer.

Sedert die skoolkonsep in 1998 aan die NWU ingevoer is, het prof. De Klerk as akademiese en administratiewe leier ‘n belangrike rol gespeel. Daar moes opnuut gedink word oor die wyse waarop akademiese bestuur moes plaasvind in ‘n stelsel waar departemente in vakgroepe omgeskakel is. Die ‘verplatting’ van strukture in ‘n skoolsisteem moes daartoe meewerk om in ‘n groter mate die integrasie van dissiplines te bevorder.

Menige gesprek het soggens in die teekamer van die Skool vir Basiese Wetenskappe oor die jare plaasgevind wat prikkelende idees by kollegas tuisgebring het. Prof. De Klerk was ‘n belangrike deelnemer in die gesprekke. Hy het voortdurend ‘n pro-aktiewe rol gespeel om die skooldirekteur (tans prof. TC Rabali) van goeie raad te bedien. Ook het hy in die fakulteit op menige komitee gedien en waardevolle insette gelewer. Sy doelwit was voortdurend om doeltreffendheid in die stelsel, asook goeie akademiese standaarde na te streef.

Die dissiplines wat tans (2011) in die Skool vir Basiese Wetenskappe beoefen word, sluit in Geskiedenis, Bybelkunde, Filosofie, Openbare Bestuur en Administrasie asook Politieke Wetenskap. Ofskoon prof. De Klerk verkies het om homself met sy geliefde vak, geskiedenis, besig te hou, het hy graag aan akademiese gesprekke met kollegas in ander dissiplines deelgeneem. Sy skerpheid van intellek en die vermoë om indringend tot die essensie van wetenskaplike denke te kom, het ‘n waardevolle rol in die skool gespeel.

Oor die jare het die interaksie tussen kollegas vanuit bepaalde dissiplinêre perspektiewe ‘n invloed op die belewenis van die daaglike akademiese werklikheid uitgeoefen. Vanselfsprekend het die omstandighede ook hul navorsingswerk beïnvloed. Die verskeidenheid van artikels wat in die bundel opgeneem word, dui op die spektrum van denke en idees wat in ‘n skool van bykans 20 lede kan sirkuleer. Prof. De Klerk het as akademikus aan menige colloquium en navorsingsgesprek van die Skool vir Basiese Wetenskappe aktief deelgeneem. Daardeur het hy kollegas in die strewe na beter navorsingwerk ‘n waardevolle diens bewys. Hul bydraes in hierdie bundel is ‘n blyk van dankbaarheid.

Recent Submissions