Contents

No. 6, September 1983

Articles


Book reviews

Editorial

Om 'n storie te vertel

Die kuns om 'n storie te vertel is 'n besondere kuns. Om jou gehoor se aandag vas te vang, te voel dat jy met die swaaie en die draaie, die invoegsel en die afwyking, die keuse van 'n woord, die wending van jou stem en 'n gebaar met die oë iets vir hulle kan laat lewe. Dis mos die storieverteller se kuns. Sy storie sal onthou word lank nadat baie ander dinge al vergeet is.

Gee ons nog genoeg aandag aan die kuns van die storieverteller in ons geskiedenisklaskamer? Die kuns waardeur feite, mense en gebeure lewe kry en kronologie, kausaliteit, verklaring en al die dinge in die agtergrond verdwyn? Kry ons leerlinge die geleentheid om 'n storie te vertel waarin diepere kennis verskuil is? Die geskiedenisonderwyser moet die groot storieverteller in die skool wees. Veral in die laerskool moet geskiedenis as 'n gedromatiseerde lewenswerklike storie aangebied word. Op die hoërskool word dit in die hoër standerds minder so, maar bly dit nog nodig, stellig in 'n heel ander vorm. Dit is die pittige, tipiese en sprekende storie wat die werk meteens lewe kan gee, wat die onderwyser boeiend en die vak interessant maak.

Om 'n storie goed te vertel is om 'n persoon of 'n gebeurtenis te laat lewe. Daarom moet elke onderwyser voortdurend op soek wees na stories, anekdotes, humoristiese stukkies of gedramatiseerde episodes. Hy behoort dit stelselmatig aan te teken sodat hy dit altyd beskikbaar het. Dink maar net aan al die kostelike staaltjies oor 'n Paul Kruger, Napoleon Bonaparte, veldslae en verhore, rebellies en rewolusies. Daar is soveel maniere waarop die storie ook vir leer- en selfstandige werk aangebied kan word. Dink maar aan die volgende:

  1. 'n Gedramatiseerde storie waar die laerskoolkinders 'n toneel opvoer waar hulleself op grond van 'n spesifieke gebeurtenis die teks moet skryf. Seuns sal daarvan hou om 'n militêre toneel uit te beeld soos die Voortrekkers in die laer by Bloedrivier, Dirkie Uys en sy pa, of 'n lugaanval op 'n terroristebasis in Angola. Die dogters sal weer graag die moeilike lewe op die trekpad, die stywe Victoriaanse sosiale lewe of die vrolike Kaapse baldanse wil uitbeeld.

  2. Onlangs het ek die geleentheid gehad om te kyk na die modelle van verskillende veldslae wat deur st. 4 leerlinge gemaak is. Die werk was kostelik en elkeen het die geleentheid gekry om met sy model as illustrasie, vir die res van die klas te vertel wat by daardie veldslag gebeur het.

  3. Hoe 'n soort mens was Jan van Riebeeck, Napoleon, Paul Kruger, genl. De Gaulle? Laat die kinders daaroor lees of stel self vir hulle 'n leeswerk saam as u nie 'n boek(e) kan kry nie, en laat hulle dan vertel hoe 'n persoon hy was. Ook in die senior standerds kan op 'n kostelike wyse 'n insig verkry word deur vir hulle as opdrag te gee om 'n bietjie navorsing te doen en dan vir die klas te vertel wat het genl. Hertzog, dr. Malan, Churchill se tydgenote van hulle gedink. So leer hulle om met primêre bronne soos memoirs kennis te maak. En laat hulle dan gesprek voer daaroor. Het mnr. X dalk 'n vooroordeel teen genl. H gehad? Was mev. Y dalk jaloers op leier X?

  4. 'n Vertelling wat bietjie anders is, bietjie moeite, kundigheid en koste vra maar wat soveel skeppingsgeleenthedebied, is die klankskyfieprogram. Laat hulle skyfies bekom, 'n draaiboek skryf en 'n klankbaan maak oor 'n onderwerp soos die swier van die Kaapse boustyl, oorlog op die grense van Suid-Afrika in die neentiende eeu, die geskiedenis van lugvaart en ander. Vir die leerlinge met 'n bietjie ondernemingsgees en dryfkrag kan dit 'n aangename en bevredigende taak wees om jou of jou span se program vir die ander leerlinge aan te bied.

  5. 'n Laaste vorm van vertelling is die voordra van 'n mooi treffende stuk uit 'n boek. Het u al daaraan gedink om toepaslike stukke op 'n aangrypende wyse voor te lees uit P.J. Bouman: Rewolusie van die Eensames; H.D. Muller, L.L. Snyder, R.B. Morris: So het dit gebeur; of die onlangs verskene A.J. van Wyk: Honoris Crux; Ons Dapperes.

Ons nooi kinders en onderwysers om vir ons vertellings staaltjies en stories te stuur wat hulle teengekom het of op een of ander wyse in die klas gebruik het. Vertel ons ook van onderwysers wat die gawe besit het om stories van betekenis te vertel. Om die bal aan die rol te sit plaas ons in hierdie uitgawe 'n poor staaltjies oor Paul Kruger. Hoe lyk dit met 'n paar oor generaal De Wet?

Volgende uitgawe - Evaluering

In ons volgende uitgawe wil die redaksie alles in sy vermoë doen om die "eksamenspook" op alle moontlikemaniere te ontmasker. Ons het almal se hulp daarvoor nodig - kinders, onderwysers en dosente. Skryf vir ons briewe, artikels en staaltjies hieroor, of stuur vir ons voorbeelde van goeie vraestelle of minder goeie vraestelle. Lewer kommentaar oor die matriekeksamen of oor evaluering in die primêre skool. Daar wag 'n interessante prys vir die "beste" bydrae. Ons maak staat op u.

Recent Submissions