Abstract:
Met die tegnologiese vooruitgang wat die industriële revolusie meegebring
het, is die mens se beskouing van die natuur met die loop van tyd
verander. Soos wat die samelewing verander het, moes die natuur dadelik
aanpas en het die omgewing die knie moes buig voor die mens se
kapitalistiese en industrialisasiebehoeftes. Die bou van paaie en treinspore
teen die einde van die negentiende eeu het byvoorbeeld getoon
hoe geweldig het die mens se beskouing van die natuur verander om
aan te pas by die diktering van die industriële ontwikkeling. 'n Vergelykende
studie van die bou van paaie deur twee omgewingsensitiewe,
areas in twee verskillende gedeeltes van die wêreld: die Glenwood Canyon
in Colorado in die VSA en die Tuinroete in die Suid-Kaap in Suid-Afrika,
lewer verskeie interessante insigte, veral omdat beide snelweë opgegradeer
is in 'n tydperk toe omgewingsake 'n sleutelrol in infrastruktuurontwikkeling
begin speel het. Uit die navorsing blyk dit duidelik dat
die verskerpte omgewingsbewustheid 'n leidende rol gespeel het in die
beplanning van albei die paaie.
Daar Ie 'n verpligting op historici om hul stem te voeg by die van andere
uit ander dissiplines om die omgewingsdebat te stimuleer. 'n Bestudering
en beskrywing van die geskiedenis van mense en gebeure is onherroeplik
gekoppel aan die omgewing waar dit plaasgevind het. 'n
Dokumentering van sodanige geskiedenis is om 'n stem te gee aan die
stemlose omgewing.