mirage

Yesterday & today = Gister & vandag: 1985 No 09

Boloka/Manakin Repository

Yesterday & today = Gister & vandag: 1985 No 09

 

Contents

No. 9, April 1985

Articles


Book reviews

Editorial

In Januarie vanjaar is die tweejaarlikse konferensie van die Suid-Afrikaanse Historiese Vereniging in Kaapstad gehou. 'n Wye reeks onderwerpe is deur vooraanslaande Suid-Afrikaanse en buitelandse historici onder bespreking geneem.

Een van die dringendste probleme wat tydens die besprekings aan die lig gekom het, is dat die afstand tussen die Suid-Afrikaanse historici en die publiek besig is om te vergroot. Tereg sê prof. Basille Cordeur van die Universiteit van Kaapstad dat te min Suid-Afrikaanse Geskiedeniswerke wat binne die verskillende denkskole ontspring, na die publiek deurdring. Ongelukkig is dit waar dat die gaping tussen historici en publiek ook in die leerling- en studentetalle in Geskiedenisklaskamers en -lesinglokale gereflekteer word. Iewers moet daar 'n rede vir die kommerwekkende toestand wees. Inderdaad is 'n indringende ondersoek in die verband uiters noodsaaklik.

Daarom is dit verblydend dat die S.A. Historiese Vereniging so 'n ondersoek wil loods. Hopelik is die gaping tussen historici en befondsingsliggame kleiner as die tussen historici en publiek. Die volgende probleemgebiede is voorlopig geïdentifiseer:

  • geskiedenisonderrig op skool en naskoolse vlak;

  • nagraadse opleiding;

  • verbreding van die navorsingstematiek;

  • nouer skakeling en samewerking tussen historici;

  • die historici in die gemeenskap en

  • die historikus en sy bronne.

Vir Gister en Vandag is 'n ondersoek soos die van meer as gewone belang. Per slot van rekening is dit 'n tydskrif vir Geskiedenisonderrig vir Suid-Afrika, en is dit ook so dat daar ongeveer 3 000 adresse is waarheen die tydskrif jaarliks gepos word. 'n Toenemende kenmerk in die verband is dat daar 'n behoefte is onder vera! onderwysers, en dan van alle gemeenskappe, na vakdidaktiese inhoude.

Meer onrusbarend as die afstand tussen historici en die gemeenskap is die afstand tussen die historici, die opleiers van Geskiedenisonderwysers en die praktyk van Geskiedenisonderrig op skool. Die verhouding tussen die drie sleutelkomponente in die Geskiedenisonderrig is op die oomblik nie na wense nie! Baie voorbeelde van gapings in die onderlinge gesprekskanale tussen vakwetenskaplikes, vakdidaktici en die praktiserende skoolonderwysgroep bestaan.

En in 'n ondersoek soos die wat die SA Historiese Vereniging wil onderneem, is die beslegting van die wanverhouding gewis die prioriteitsaak!

Aspekte wat dan na vore kom, is:

  • Hoeveel inspraak word historici by departementele en interdepartementele sillabus- en ander studiekomitees toegelaat? Indien die inspraak wel plaasvind, hoe verteenwoordigend is die spektrum van historici oor die linie van onderskeie standpunte?

  • Hoeveel historici is vertroud met die leefwêreld van leerlinge op primêre-en sekondêreskoolvlak, veral daar waar dit wel moontlik is om inspraak te hê: skoolhandboeke en vakkomitees?

  • Hoe dikwels dra historici by tot die gesprekke rondom Geskiedenisonderrig op skoolvlak, veral by wyse van artikels in 'n tydskrif soos Gister en Vandag? (En met merkwaardige arrogansie konstateer 'n vooraanstaande historikus en hoogleraar in Geskiedenis dat daar 'n ernstige behoefte aan 'n tydskrif vir Geskiedenisonderrig bestaan - vgl. die Historia van September 1984).

  • Hoeveel geleenthede word die praktiserende onderwyser gebied om by vakwetenskaplike en vakdidaktiese besprekings insette vanuit sy ervaringsmilieu lewer?

  • In hoe 'n mate is die vakdidaktikus se opleiding aan voornemende Geskiedenisonderwysers praktykgerig?

  • Word die kundigheid van vakdidaktici hoegenaamd deur historici en onderwysliggame erken?

  • In hoe 'n mate word onderwyseropleiers deur die superintendente van onderwys as kundiges erken en by indiensopleidingsprogramme betrek?

  • In hoe 'n mate word die superintendente van onderwys as kundiges erken en by onderwysersopleiding inspraak gegun?

  • Hoe dikwels tree die onderwyser as vernuwer op? Word hy toegelaat om in die verband 'n bydrae te lewer of moet hy 'n naprater/nadoener wees?

  • Skakel die kennisterreine van die skool, onderwyskollege en universiteit by mekaar in? In hoe 'n mate is so 'n skakeling gewens en noodsaaklik?

  • Spreek leerinhoude en aanbiedingswyses hoegenaamd studente (by onderwyskolleges en universiteite) aan?

  • In hoe 'n mate maak historici wat as dosente praktiseer, 'n studie van die leefwêreld en leerstyl van die adolessent en jong volwassene? Is so 'n studie vir die dosent ter sake?

  • Spreek leerinhoude soos in die skoolsillabusse vervat die onderskeie leerlinggroepe aan?

  • Vind sillabusvernuwing op skoolvlak hoegenaamd plaas, veral as 'n mens na die jongste "hersiening" van die skoolsillabus kyk? (Om watter goeie rede is bv. besluit om so 'n arbitrêre datum soos 1970 as eindpunt vir die matrieksillabus te beskou? Is 'n chronologiese uiteensetting so belangrik?)

  • Hoeveel provinsialistiese- en rassevooroordele bestaan daar in die benadering van probleemareas in die studie en onderrig van Geskiedenis?

  • Hoeveel ivoortorings is daar waar diegene vir wie Geskiedenisonderrig en geskiedsbeoefening belangrik is, hul van mekaar weghok?

Hierdie probleemgebiede wat in terme van vrae aan die orde gestel is, raak moontlik die wese van die totale probleem? Natuurlik sal nadere presisiering gedoen en verdere aanvullings gemaak moet word. Net so belangrik as probleemgebiede is die moontlike probleemoplossers. Gister en Vandag wil die vertroue uitspreek dat hy by die ondersoek van die S.A. Historiese Vereniging betrek sal word. Uiteraard tree hy op as spreekbuis vir die onderrig van Geskiedenis op skoolvlak.

Die stigting van 'n Vakvereniging vir die opleiding van Geskiedenisonderwysers in Junie vanjaar (waaroor elders in die uitgawe berig word) is in die lig van al die bogenoemde vrae uiters noodsaaklik. Die hoop word uitgespreek dat die stap wat deur Gister en Vandag geïnisieer is, wye belangstelling sal geniet en 'n verteenwoordigende groep opleiers en superintendente van onderwys in 'n verenigde front sal saamsnoer. Dit kan net tot voordeel van ons vak wees.

Mag die onderskeie pogings van die S.A. Historiese Vereniging en Gister en Vandag groat sukses op die hele terrein van Geskiedenispraktyk hê.

J.M.L. Horn

Recent Submissions

Search the NWU Repository


Advanced Search

Browse

My Account

Statistics

RSS Feeds