mirage

Yesterday & today = Gister & vandag: 1994 No 27

Boloka/Manakin Repository

Yesterday & today = Gister & vandag: 1994 No 27

 

Contents

No. 27, May 1994

Articles


Book reviews

Editorial

Toerusting en toewyding

Die gesprek oor die onderrig van Geskiedenis in die Tweede Republiek van Suid-Afrika is besig om aan die gang te kom. Dit is bemoedigend dat besprekingsgroepe van en vir onderwysers oral tot stand kom. Die hoëvlak kundigheid en vaardigheid van onderwysers vir wie die kind en die vak se belange primêr is, is 'n voorwaarde om die toekoms van die vak Geskiedenis as 'n beskawingsopgaaf te verseker. Dit is ook noodsaaklik om aan die gesprek praktiese inhoud en betekenis te gee. Historici en didaktici moet ook hulle bedrae lewer tot 'n holistiese, gebalanseerde en verantwoorde gesprek oor wat, hoe en waarom van die geskiedenis wat op skool kan en behoort aangebied te word.

Ons publiseer in hierdie uitgawe die eerste van 'n aantal referate wat op die Januarie-konferensie van die Suid-Afrikaanse Historiese Genootskap gelewer is. Ander referate sal in die Oktober-uitgawe verskyn. Die styl wat op die konferensie gevolg is, was om vir elke referaat of groep referate 'n respondent te hê wat die bespreking ingelei het. Sover dit prakties moontlik was, is hierdie respondente se repliek saam met die oorspronklike referaat opgeneem. In enkele gevalle is nie 'n skriftelike repliek ontvang nie.

Ons konferensietemas was praktykgerig vir sowel die primêre, sekondêre as tersiêre vlakke. Van die referate is voorbeelde van hoe onderwysers praktiese aanbiedinge binne die vaardigheids- en perspektiwiese benadering kan ontwerp. Dit is ons wens dat dit onderwysers sal aanmoedig om die vrymoedigheid te neem om meer van hulle eie ontwerpe tot tydskrifartikels te verwerk sodat dit vir publikasie opgeneem kan word.

Een van die winspunte van die konferensie was die aktiewe deelname van onderwysers as referente en respondente. Ons vertrou dat dit hulle kollegas sal aanmoedig om ook saam met historici en didaktici deel te neem.

Die eerste twee referate, soos deur die respondente aangedui, weerspieël moontlikhede en moenies vir die ontwikkeling van die vak. Prof. Van Jaarsveld se referaat is 'n waarskuwing van wat vermy moet word in die toekomstige ontwerp van sillabusse. In sy repliek wys Prof. Liebenberg daarop dat hierdie onbevredigende moontlike ontwikkeling vermy kan word. Die referaat van Prof. Kapp spel die moontlikhede uit om die onderrig van Geskiedenis so te ontwikkel dat hy aan die wesensaard van die vak getrou is en die egte opvoedkundige belange van die kind dien. Soos dr. Neville Alexander in sy repliek aandui, is dit ewewigtige en internasionaal-erkende beginsels en riglyne wat 'n weg open na 'n sillabus wat Geskiedenis in staat stel om groter aanvaarbaarheid te geniet en 'n belangrike vormende en toerustingsrol te speel. Die werklike toets lê egter nie by hierdie teoretiese raamwerke nie, maar by die inhoud van die sillabusse en die wyse waarop daardie inhoud in handboeke tot uitdrukking kom. Dit is daarom belangrik dat onderwysers in hulle besprekingsgroepe veral oor die volgende vrae vir hulleself groter duidelikheid sal kry:

1. Wat is die sentrale faktor(e) in die Suid-Afrikaanse geskiedenis? Waarom gaan dit wesenlik in die Suid-Afrikaanse geskiedenis?

2. Wat is die gevoelige aspekte/benaminge/tiperinge in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat met groot sensitiwiteit hanteer moet word?

3. Watter deelgebiede in die geskiedenis moet in die sillabus opgeneem word en in watter verhouding tot mekaar?

4. Hoe moet die proses- en produkaspekte van die onderrig van die vak tot sy reg kom?

5. Watter persentasie en inhoud van die sillabus moet tot die verpligte kernkurrikulum behoort en watter tot vrye keuse? Wat moet die aard van daardie vrye keuse wees?

6. Moet daar 'n modulêre benadering wees en indien wel, wat is die implikasies daarvan vir handboeke.

7. In die lig van die antwoorde op bogenoemde vrae moet die vraag beantwoord word aan watter vereistes, standaarde en kriteria moet voorgeskrewe tekste, modulêr of tradisionele handboeke, beantwoord?

Dit is vrae wat ernstige, kundige en in diepte besinning van onderwysers vra.

Maar daarbenewens moet onderwysers ook wakker, skerpsinnig en oplettend wees vir die strategieë wat onder die tafel beplan word om die onderrig van geskiedenis in 'n bepaalde rigting te stuur. Daar is instansies wat skynbaar oor onbeperkte fondse beskik om die onderrig van geskiedenis deur gepubliseerde tekste, bronnemateriaal, sg. werkboeke en video’s te manipuleer. Geskiedenisonderwysers moet moeite doen om buitengewoon goed ingelig te wees. Geskiedenisdepartemente en dosente in die vakdidaktiek Geskiedenis moet oorweeg wat hulle taak en verantwoordelikheid is om deur opknappingskursusse onderwysers voor te berei om die nuwe situasie te hanteer en terselfdertyd die wolf in skaapklere uit te ken. Hulle moet bedag wees op pogings om Geskiedenisonderrig te manipuleer.

Daar is instansies wat naarstiglik werk om nuwe handboeke op die mark te plaas met die doel om die ontwerp van sillabusse te forseer en 'n bepaalde radikale stempel op die onderrig van Geskiedenis af te druk. Net 'n toegewyde en kundige onderwyskorps kan die korrels van die kaf, die egte vernuwende van doelbewuste onderwerping onderskei.

Een voorbeeld ter illustrasie. Aan die einde van Maart 1994 het 'n boek van Hosea Jaffe verskyn EUROPEAN COLONIAL DESPOTISM (SALS, Kaapstad). Die boek se doel word soos volg omskryf: "This history is intended for high schools, universities and students of racism and colonialism and of resistance to colonial racism ..." Die kenmerke van die boeke is: "... an economic, social, political and cultural history of how capitalist European settlement, conquest, dispossession, slavery, serfdom, wage labour and racist oppression uprooted and was imposed on communalistic pre-capitalist societies south of the Limpopo River during the past 400 years. The history treats the evolution of capitalism in South Africa from 1652 to 1993 in the context of the essentially colonialistic expansion of capitalism into the racist world system during this period".

Is dít die geskiedenis wat ons aan ons kinders wil oordra?

Net onderlegde, toegeruste en toegewyde onderwysers kan 'n bolwerk vorm om te verseker dat Geskiedenis sy egte waarde vir die opvoeding van mense verwerklik.

Recent Submissions

Search the NWU Repository


Advanced Search

Browse

My Account

Statistics

RSS Feeds