mirage

Yesterday & today = Gister & vandag: 1993 No 26

Boloka/Manakin Repository

Yesterday & today = Gister & vandag: 1993 No 26

 

Contents

No. 25, May 1993

Articles


Book reviews

Editorial

Toergidse van die verlede vir die toekoms

Geskiedenis is al deur Pieter Geyl, die Nederlandse historikus, as 'n diskussie sonder einde beskryf. Dit is in een belangrike opsig 'n juiste tipering van wat geskiedenis is: 'n oop gesprek waardeur die veelkantigheid van die waarheid belig word. Dit beteken nie dat historiese kennis tot 'n blote relativisme verlaag word nie. Dit beteken nie "Everyman his own historian" nie. Eerder die teendeel. Maar dit impliseer wel dat die historiese waarheid nie een-dimensioneel is nie. Wie só oor die geskiedenis wil dink, verskraal en verarm dit. Wie veeldimensioneel oor die geskiedenis dink, ontdek dat dit 'n besondere vorm aanneem wat 'n geleentheid tot oop gesprek, tot 'n diepte-perspektief en tot 'n begrypende verstaan bied wat juis rebelleer teen pogings om die geskiedenis tot 'n toetsterrein vir modelle en teorieë te maak of as arsenaal vir politieke en ideologiese regverdiging te laat dien.

Daarom vereis omgang met die geskiedenis juis dié dinge wat met 'n ontwikkelde gees en 'n ryp mens verbind word: 'n eie en positiewe staanplek van waaruit die verskeidenheid en die rykdom van die geskiedenis met rasionele insig en empatiese begrip verwerk en verwerf word tot 'n greep op 'n stuk menslike verhaal. Iemand wat met die geskiedenis omgaan is nie 'n identiteitlose, neutrale en standpuntlose mens nie. Jy kan net iets wees as jy iemand is. Jy kan die veeldimensionele aard van die historiese werklikheid net begryp as jy dit vanaf 'n bepaalde staanplek benader. Maar dit impliseer dat jy dit met 'n openheid van gemoed en gewaarwording benader wat jou in staat stel om die besondere aard van elke dimensie en sy verhouding tot die totale beeld te begryp. Daarom is jou benadering rasioneel, ewewigtig en empaties. Dit is nie ideologies gelaai of deur teorieë en modelle geforseer nie. Dit is nie 'n kruisvaart nie, maar 'n soektog na egte en oorspronklike kennis, 'n suiwer verstaan en 'n insigvolle begrip.

Hoe vollediger jou kennis hoe beter die kans dat die veeldimensionele beeld in skerp fokus sal kom. Hoe oppervlakkiger jou kennis hoe vaer en platter sal die beeld vertoon. Die historikus verklaar en verstaan immers gebeure deur dit volledig en in sy volle verskeidenheid en rykdom te bestudeer. Hy dwing nie die gebeure in die keurslyf van 'n teorie of 'n model in nie. Hy maak wel afleidinge oor die perspektiewe en patrone, die algemeenhede en die ooreenstemminge wat in bepaalde gebeure ontvou. Hy teken boeiende parallelle en ontwikkel verhelderende vergelykings. Maar hy laat nie die unieke aard van die veeldimensionele beeld verdwyn in 'n intellektuele potpourri nie.

Om hierdie beeld vir die leerlinge in sy volle perspektief aan te bied, moet die onderwyser hom daarop toespits om sy leerlinge op 'n begeleide toer te neem. Deur boeiende vertelling, insigskeppende ontsluiting, intellektuele nuuskierigmaak en weetgierige aansporing betrek hy die leerlinge by die diskussie oor die beeld en sy betekenis sodat elke leeding uiteindelik 'n begrip kan ontwikkel van die beeld se besondere aard en sy veelkantige vorm.

Maar dit moet berekend en stap vir stap geskied. Daarvoor moet die onderwyser aan die volgende noulettend aandag gee:

  • Die peil van eie kennis.

  • Die skerpheid waarmee die beeld vir hom/haar in fokus is.

  • Die toerusting waarmee hy/sy die begeleide toer onderneem.

  • Sy vermoë om sy toergangers se aandag op die regte dinge toe te spits.

As intellektuele toergids deur die beelde van die verlede, is die geskiedenisonderwyser die persoon van wie die sukses van die toer in die eerste en laaste plek afhang. Sonder die toergids is die leerlinge dwalende, is die beelde betekenislose gestaltes of verwronge gedrogte waardeur hulle bedreig kan voel of wat op hulle beslag kan lê sodat hulle slagoffers daarvan word eerder as bevryders daarvan.

Geskiedenis moet leerlinge bevry van 'n eendimensionaliteit, van 'n oppervlakkigheid en van 'n perspektiefloosheid. Dit moet van hulle mense maak wat met 'n kritiese en waarderende houding, 'n intellektuele weetgierigheid en 'n ondersoekende gees, 'n openheid van gemoed en 'n vastheid van rigting toegerus is. As die vak op hierdie wyse van die grade tot senior sertifikaat aangebied word, is sy onmisbaarheid as opvoedingsopgaaf verseker.

GISTER EN VANDAG wil leerlinge en onderwysers hiervoor toerus. Daarom bied ons 'n verskeidenheid standpunte en stellinge, metodes en moontlikhede, kennis en vaardighede aan. In twee aktuele artikels in hierdie uitgawe word juis na die waarde van geskiedenis as skoolvak en na die problematiek van die people's historybenadering gekyk. Die wyse waarop die relevantheid van historiese kennis vir die gebeure van die dag toegelig kan word, word in die artikel oor die gebruik van die koerant in die klaskamer bespreek. Hoe om die laerskoolkind die verlede te laat beleef, word in twee ander artikels gedemonstreer.

Ingesluit by hierdie uitgawe is ook die program van 'n konferensie oor geskiedenisonderrig wat van 19-21 Januarie 1994 op Stellenbosch aangebied word. Daar word tans heel wat oor perspektiwiese onderrig en die ontwikkeling van vaardighede in die geskiedenisklas gepraat. Hierdie konferensie gaan praktiese demonstrasies lewer van hoe dit gedoen kan word. Daarom is dit belangrik dat geskiedenisonderwysers die konferensie sal bywoon. Sommige onderwysowerhede ag die konferensie só nuttig dat hulle dit as 'n indiensopleidingsprogram erken het.

Diegene wat die konferensie bywoon, sal toegerus word om hulle taak as toergidse van die verlede vir die hede en toekoms met groter bekwaamheid te verrig.

Recent Submissions

Search the NWU Repository


Advanced Search

Browse

My Account

Statistics

RSS Feeds