Fact and fiction: representations of the South African War in Afrikaans history writing and literature.
Abstract
Beide feit en fiksie was nog altyd komponente van geskiedskrywing. In die onlangse
verlede het postmodernistiese idees die vreedsame naasbestaan tussen feit en fiksie in
geskiedskrywing versteur deur die onderskeid tussen die twee te probeer ophef,
waarheidsaansprake deur historici te bevraagteken en die bestaansreg van geskiedenis
as 'n wetenskap in twyfel te trek. Sommige historici het afwysend hierop reageer, maar
ander het dit as 'n uitdaging gesien. 'n Groeiende besef het onder historici posgevat dat
die soeke na historiese waarheid bevorder kan word deur aan sowel feit as fiksie hul
regmatige plek in die geskiedskrywing te verleen.
In Afrikaanse intellektuele kringe was daar ook in die afgelope paar jaar indringende
besinning oor hoe die verlede hanteer moet word. In literêre tekste was daar, onder
postmodernistiese invloed, toenemende bemoeienis met die verlede. Die idee dat daar
geen essensiële verskil tussen fiksie en geskiedskrywing is nie en dat die romanskrywer
'n geskiedskrywer kan word, het veld gewen. Klein narratiewe het die korrektheid van die
historiese metanarratief, dit is die tradisionele historiografiese beskouings, bevraagteken.
Daar is sprake van 'n "herverbeelding" en 'n "heronderhandeling" van die verlede. Historici
is uiteraard skepties oor die "oortreding" van letterkundiges op hulle terrein.
Interaksie tussen Afrikaanse fiksie- en geskiedskrywers open nietemin interessante nuwe
moontlikhede vir die interpretasie van die verlede. In hierdie artikel word enkele resente
literêre tekste en geskiedeniswerke, wat die Anglo-Boereoorlog as tema het, ontleed om
vas te stel hoe sodanige interaksie ontwikkel en wat die implikasies daarvan is. Dit is
duidelik dat veranderde omstandighede in Suid-Afrika sienings in Afrikanergeledere oor die
Anglo-Boereoorlog sterk beïnvloed het. Trouens, die hervertolking van die Anglo-Boereoorlog gaan vir die Afrikaner in die eerste plek oor die herdefiniëring van die self in
die huidige. Dit hou in 'n groot mate verband met die hedendaagse Afrikaner, 'n eeu na
die oorlog, se soeke na 'n nuwe selfbeeld/kulturele identiteit in 'n meer inklusiewe
samelewing.