Koolstofbelasting as voorgestelde ekologiese fiskalehervormingsmaatreël in Suid-Afrika
Abstract
Die doel van die artikel is om sowel die ontwikkeling as die inhoud van die Draft Carbon Tax Bill, 2015 in besonderhede te bespreek. Die sentrale vertrekpunt van die betoog berus op die aanname dat fiskalehervormingsmaatreëls (onder meer koolstofbelasting) suksesvol aangewend kan word as nasionale instrumente om die uitwerking van klimaatsverandering te temper. Hierdie aanname spruit uit die internasionale mandaat vir die tempering van klimaatsverandering soos vervat in die United Nations Framework Convention on Climate Change, 1992 asook die Kioto-protokol, 1997.
Die metodiek van die artikel om die navorsingsdoelwit te bereik is ’n literatuurstudie wat op kernonderwerpe gefokus is. Eerstens word fiskale hervorming as temperingsmaatreël bekendgestel, waarna koolstofbelasting as spesifieke verskyningsvorm bespreek word. Daarna volg ’n ondersoek na die geskiedkundige ontwikkeling wat hierdie bestaande beleidsraamwerk oor koolstofbelasting deurloop het. Daarmee saam geld ’n oorsig oor die vernaamste beleidsdokumente. Laastens word die wetsontwerp van 2015 ontleed deur spesifiek te fokus op aspekte van belastingpligtigheid, die ontwerp van koolstofbelasting en die herwinning van inkomste.
Die doel van hierdie ontleding is om te beoordeel of die voorgenome koolstofbelasting (soos in die wetsontwerp beskryf) die potensiaal het om daadwerklik klimaatsverandering deur fiskale hervorming te kan teenwerk. Daar word bevind dat die wetsontwerp twee uiteenlopende velde van die reg aansny, naamlik omgewingsreg en belastingreg. Voorts is die bevinding dat die voorgeskrewe belastingvrye drempels en belastingtoegifte die finansiële impak van koolstofbelasting as omgewingsgesentreerde (ekologiese) fiskalehervormingsmaatreël drasties inperk. Nietemin is die formulering van hierdie beleidsdokument ’n dinamiese stap om die eerste en enigste wetgewing te ontwikkel wat klimaatsverandering in Suid-Afrika uitdruklik reguleer.
URI
http://hdl.handle.net/10394/21885http://www.litnet.co.za/koolstofbelasting-voorgestelde-ekologiese-fiskalehervormingsmaatreel-suid-afrika/
Collections
- Faculty of Law [387]