'n Heideggeriaanse benadering van landskap as woon in Breyten Breytenbach se Nege landskappe van ons tye bemaak aan 'n beminde (1993)
Abstract
In hierdie artikel word 'n teoretiese benadering van landskap as woon uiteengesit met behulp van die Britse antropoloog Timothy Ingold (2000:185-6) se "woonperspektief", wat afgelei is van Martin Heidegger se essay "Bauen Wohnen Denken" (1952) (vertaal in Afrikaans as "Bou, woon, dink" deur Holm en Schoeman 1989:165-79). Heidegger se doel is om die oorspronklike perspektief van "woon" terug te vind, en dit is dat sterflikes se aktiwiteite van bou - van dinge oprig en versorg - deel uitmaak van die bewoning van die wêreld (Ingold 2000:185-6). Die woonperspektief is die grondslag van die benadering van landskap as woon in hierdie artikel. Die benadering van landskap as woon is veral gemoeid met die werksaamhede of alledaagse take van sterflikes, wat deel uitmaak van hulle woon op aarde. Vervolgens word gevra na die verband tussen landskap en woon. Daar sal aangevoer word dat landskap en woon onlosmaaklik deel is van mekaar. Dit kan aan die hand van twee aannames geïllustreer word: die eerste aanname behels dat die menslike lewe 'n proses is wat tyd in beslag neem. Die tweede is dat hierdie lewensverloop die proses van die vorming van landskappe is waarin mense gelewe het (Ingold 2000:189-90). Hiervolgens is landskap saamgestel as "an enduring record of - and testimony to - the lives and works of past generations who have dwelt within it, and in doing so, have left there something of themselves" (Ingold 2000:189). Die teoretiese aspekte van landskap as woon sal vervolgens aan die hand van Breytenbach se gedigsiklus "dinkding" (NL 11-22) uit Nege landskappe van ons tye bemaak aan 'n beminde (1993) uitgewerk word. Dit word gedoen met die doel om die spreekwoordelike "vaarwaters" te beproef en insig te bied in die wyse waarop landskap as woon in Breytenbach se werk bestudeer kan word.
Collections
- Faculty of Humanities [2042]