Show simple item record

dc.contributor.advisorHuman, M.P.
dc.contributor.authorJacobs, J.
dc.date.accessioned2018-08-29T13:49:39Z
dc.date.available2018-08-29T13:49:39Z
dc.date.issued2018
dc.identifier.urihttps://orcid.org/0000-0002-3633-3785
dc.identifier.urihttp://hdl.handle.net/10394/30818
dc.descriptionMA (Afrikaans en Nederlands), North-West University, Potchefstroom Campusen_US
dc.description.abstractHierdie studie ondersoek die retoriese aanslag deur skrywers van littérature engagée (betrokke prosa) in die sewentigerjare van die vorige eeu asook eietydse Afrikaanse prosaskrywers van die 21ste eeu (2000-2017). Die hoofdoel was om ooreenkomste en verskille te kan eien in die retoriese strategieë wat tydens die bestudeerde tydgewrigte gebruik is. Die veronderstelling was dat daar tans, soos in die 1970's, sprake is van 'n spesifieke krisistydperk in die Suid-Afrikaanse samelewing, waarin vryheid en geregtigheid ernstig ondermyn word (Chapman, 1996:79). Volgens Brink (2010) is een van die hoofoogmerke van betrokke prosa juis om hierdie grondliggende waardes te verdedig, veral wanneer dit onder beleg kom. Ongeag die era waarin hulle optree, rig die betrokke skrywers 'n doelgerigte, maar ook subtiele appèl tot hul lesers om (vrywillig) hulle eie verantwoordelikheid te aanvaar om hierdie waardes te verdedig. Die gevolg is dat 'n dialektiese verhouding tussen die skrywer en die leser ontstaan, in die sin dat eersgenoemde laasgenoemde moet oorreed om betrokke te raak by die bekamping van leuens en ongeregtigheid. In die oorredingsproses staan die vrywillige keuse van die leser egter steeds sentraal. Twee romans wat hierdie doelgerigte appèl kragtig weerspieël, is uit elk van die onderskeie tydvakke geselekteer. Hierna is die gekose romans bespreek waartydens die retoriese strategieë, wat deur die littérature engagée-skrywers toegepas is, ontleed is. André P. Brink se 'n Droë wit seisoen (1979) en Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena (1978) word as romans uit die 1970's bespreek. Horrelpoot (2006) deur Eben Venter en Karin Brynard se Plaasmoord (2009) word ooreenkomstig as littérature engagée-voorbeelde van die 21ste eeu behandel. By die teoretiese begronding van die studie is veral gefokus op sensuurbeleide, kernaannames binne die postmodernisme asook die historiese apartheidstigma wat steeds aan Afrikaans en Afrikaners binne die nuwe bedeling kleef. Die genoemde uiteenlopende besprekingspunte is belangrik vir hierdie studie, aangesien elke aangeleentheid die nagevorste retoriese strategieë in die onderskeie tydperke beïnvloed. Drie (van die vyf) take wat Aristoteles tydens die oortuigingsproses aan die retor opgelê het, word as raamwerk gebruik. Daardeur word die gekose vier romans in die toepassingshoofstukke retories ontleed. Die gekose retoriese take is: seleksie en ordening (dispositio); verwoording en styl (elocutio); en verkryging (inventio). Indien die retor daarin kan slaag om argumente en inligting só te selekteer dat dit by die teikengehoor pas, toon hy/sy die vermoë om gegewens vaardig toe te pas en te verwerk. Hierdie take vorm die raamwerk om die genoemde romans vergelykend te ondersoek. Die bevindings van die studie het getoon dat Brink en Joubert se ordeningstegnieke meer opvallend vertoon as dié van Venter en Brynard. Daar is 'n verband aangedui tussen die vaste orde en die strewe van die Sewentigers om 'n sterk illusie van waarheid binne hul romans in te bou. Die ruim gebruik van nietegniese bewysmiddels (t.w. dokumentasie) deur Brink en Joubert is veral hier uitgelig. Voorts is bevind dat skrywers uit beide tydvakke stilistiese strategieë gebruik om uiteenlopende menslike identiteite (bv.Westerling teenoor Afrikaan) te laat versmelt. Daar word verduidelik dat die promovering van die versmeltingsgedagte tans littérature engagée-skrywers in staat stel om 'n veiliger vorm van kritiek te lewer. Binne die logiese redeneerstruktuur word strategieë tans ook so aangepas dat skuld so min moontlik op eksterne agente gepak word (bv. wetgewing en die regering). Die fokus verskuif eerder binne 'n makrokonteks na die mens (die “eie-ek") en hoe noodsaaklik die individu se keuses en verantwoordelikhede binne so 'n tydvak vol sosio-politiese uitdagings is. Hier is dit veral die Afrikaners wat met hul apatiese en nostalgiese ingesteldheid nie sonder skuld voor die leser staan nie. Só 'n uitbeelding is weereens 'n veiliger retoriese keuse binne 'n eietydse, subtiele sensuurklimaat in die Suid-Afrikaanse samelewing.en_US
dc.language.isootheren_US
dc.publisherNorth-West Universityen_US
dc.subjectLittérature engagéeen_US
dc.subjectretorikaen_US
dc.subjectretoriese strategieëen_US
dc.subjectSewentigersen_US
dc.subjecteietydse skrywersen_US
dc.subjectspeurromansen_US
dc.subjectmisdaadromansen_US
dc.subjectdistopiese fiksieen_US
dc.subjectgeweteen_US
dc.subjectverantwoordelikheiden_US
dc.subjectsensuuren_US
dc.titlePerspektiewe op die aanwending van retoriese strategieë in die littérature engagée van die 1970's en die vroeë 21ste eeu - ‘n vergelykende studieen_US
dc.typeThesisen_US
dc.description.thesistypeMastersen_US
dc.contributor.researchID13269356 - Human, Matthys Philippus (Supervisor)


Files in this item

Thumbnail

This item appears in the following Collection(s)

Show simple item record