Die rol van skoolleierskap in Grondslagfase-onderwysers se motivering ten opsigte van volhoubare akademiese verbetering
Abstract
Swak akademiese prestasie onder leerders en ook spesifiek die Grondslagfase-leerders word gesien as 'n groot probleem in Suid-Afrika. Daar bestaan 'n verskeidenheid faktore wat die akademiese prestasie van leerders negatief kan beïnvloed. Een van hierdie faktore wat 'n direkte en indirekte invloed het op leerderprestasie is onderwysermotivering. Skoolleierskap kan as 'n eksterne faktor beskou word, wat die Grondslagfase-onderwysers se motivering beïnvloed. In hierdie navorsing is daar gefokus op die invloed en rol van skoolleierskap op die motivering van Grondslagfase-onderwysers. 'n Kwalitatiewe navorsingsontwerp ingebed in die interpretivistiese paradigma, in die vorm van 'n fenomenologiese studie is gebruik as die metode van navorsing. Met die gebruik van 'n femenologiese benadering het die navorser daarin gepoog om die persoonlike ervaringe en sieninge van die Grondslagfase-onderwysers asook die skoolleierskap te raadpleeg. Doelgerigte steekproefneming is gebruik om die vier skole asook skoolhoofde, departementshoofde en grondslagfase-onderwysers as deelnemers te selekteer. Individuele semi-gestruktureerde onderhoude is gebruik om die data te genereer. Die navorser het van 'n onderhoudskedule gebruik gemaak om die onderhoude te struktureer. Die vertrouenswaardigheid van die navorsing is verseker tydens die insameling en interpretasie van die data. Die ingesamelde data is verbatim getranskribeer waarna dit geanaliseer, geïnterpreteer en georden is volgens geselekteerde temas, deur gebruik te maak van 'n inhoudsanalise. Die belangrikste bevindinge van die navorsing sluit in: � Bevindinge rakende die aard van motivering. Die literatuur het getoon dat motivering gesien kan word, as dit wat mense dryf, om sekere aktiwiteite tot die beste van hul vermoë te wil uitvoer, en dat motivering 'n psigologiese oorsprong het. Motivering kan intrinsiek of ekstrinsiek voorkom. Intrinsieke motivering is oor die langtermyn meer volhoubaar, omdat ekstrinsiek-gemotiveerde individue voortdurend een of ander aansporing nodig het voordat werk gedoen word. Verder het die literatuur ook aangetoon dat geïntegreerde regulasie nie omgesit kan word in intrinsieke motivering nie, en dat dit steeds as ekstrinsieke motivering beskou word, omdat die motivering vanaf die persoonlike doelwitte af kom, en nie van die persoon self af nie. 'n Persoon kan egter ekstern gemotiveerd wees, maar omdat die individu persoonlike waarde aan die uitvoering van die aktiwiteit koppel, word hierdie ekstern-gemotiveerde gedrag as “outonome" gedrag geïnternaliseer, wat meer volhoubare motivering tot gevolg het. � Bevindinge rakende die verband tussen die motivering van Grondslagfase-onderwysers en akademiese verbetering van leerders: Daar bestaan 'n duidelike verband, tussen die motivering van onderwysers en die volhoubare akademiese verbetering van leerders. Daar bestaan 'n direkte en indirekte invloed van gemotiveerde Grondslagfase-onderwysers ten opsigte van volhoubare akademiese verbetering. Verder bestaan daar ook 'n direkte en indirekte invloed van ongemotiveerde Grondslagfase-onderwysers op akademiese prestasie van leerders. � Bevindinge aangaande die rol van skoolleierskap in die motivering van die Grondslagfase-onderwyser ten opsigte van volhoubare akademiese verbetering: Die data analise het getoon dat skoolleierskap se rol behoort te wees om leiding en mentorskap aan die Grondslagfase-onderwysers te bied en dat skoolleierskap 'n toonbeeld van goeie motivering vir die Grondslagfase-onderwysers behoort te wees. Die departementshoofde behoort direk (“hands-on") betrokke te wees by onderrig en leeraktiwiteite van die leerders. 'n Ander rol wat skoolleiers speel in die motivering van Grondslagfase-onderwysers is deur bemagtiging. Onderwysers is meer gemotiveerd wanneer hul bemagtig word. Professionele ontwikkeling is van groot belang as dit kom by die bemagtiging van die Grondslagfase-onderwysers en die skoolleiers behoort professionele ontwikkeling en werkswinkels in die skoolomgewing aan te moedig. Die bied van erkenning is ook 'n vorm van bemagtiging van die onderwysers. 'n Verdere rol wat skooleierskap speel in die motivering van Grondslagfase-onderwysers is deur effektiewe bestuur. Skoolleierskap moet toesien dat skoolontwikkelingsplanne daargestel word, en dat die beste kandidate vir die onderrig van die Grondslagfase-leerders aangestel word. Nog 'n rol wat skoolleiers speel in die motivering van Grondslagfase-onderwysers is deur toeganklikheid. 'n Belangrike vorm van toeganklikheid is die inagneming van ander se opinies. Die opinies van die Grondslagfase-onderwysers behoort in ag geneem te word wanneer besluite deur die skoolleiers gemaak word. Die data analise het ook getoon dat onderwysers meer gemotiveerd is wanneer daar na hul probleme geluister word en belangstelling getoon word vir die onderwysers se persoonlike lewens. Die skep van gunstige werksomstandighede deur die skoolleiers, speel 'n groot rol in die motivering van hierdie onderwysers en die bou van sterk kollegiale verhoudinge behoort deur die skoolleierskap aangemoedig te word. Sosiale geleenthede behoort ook deur die skoolleierskap geskep word vir die Grondslagfase-onderwysers.
Collections
- Education [1692]