“Lewe” (חיה) as teologiese tema met toespitsing op die begrippe Beloofde Land en toekomsverwagting in Deuteronómium
Abstract
“Lewe” as konsep kom regdeur die verskillende literêre korpusse in die Bybel voor. ʼn Soektog van die Hebreeuse stam van die woord vir lewe in die Biblia Hebraica Stuttgartensia, naamlik חיה , lewer 806 resultate¹. Volgens Logos se sagteware verwys 671 van hierdie gevalle spesifiek na die lewe van die mens². Brensinger (1997:108-113) bevestig hierdie waarneming deur na die vertaling van חיה as ‘be alive’ te verwys as die ‘majority of occurrences’ van die woord, terwyl verwysings na die lewens van diere in dieselfde bron apart behandel word. Die voorkoms van die woord in die Ou Testament vergelyk goed, ten minste in hoe gereeld dit voorkom, met ander prominente voorgestelde sentrale temas. Dit word duidelik as die volgende in ag geneem word: • Die woord ברית (verbond), ʼn bekende Bybelse tema, kom byvoorbeeld 284 keer voor in die Ou Testament. In 235 gevalle verwys dit na die verbond van God met sy volk. McConville (1997:747-755) wys baie van hierdie gebruike uit in die verskillende verbonde, of fases van die verbond, tussen God en sy volk. • Hierteenoor kom die woord ממלכה (koninkryk) en ander verbuigings daarvan 240 keer in die Ou Testament voor. Nel (1997:956-965) wys die veelheid van verbuigings van die woord en hul onderskeie semantiese velde uit. Die meeste hiervan verwys na aardse konings en koninkryke en nie na die koninkryk van God, wat ook al as teologiese tema ontwikkel is, nie. Inteendeel, France (2005:420) wys slegs op vyf plekke waar daar in die Ou Testament na die koninkryk van God verwys word. Tog waarsku hy: “... it would be a serious mistake to assume that God’s kingship is not therefore an important theme for the Old Testament ...”. • Die woord דב ר word 95 keer in die Ou Testament gebruik as ʼn verwysing na ʼn belofte. Ames (1997:912-915) wys tereg daarop dat die gebruik van die woord meestal die bedoeling van ‘spraak’ of ‘woord’ wil oordra en in enkele gevalle ‘belofte’ kan beteken. Ten spyte hiervan wys Kaiser (2008) tog duidelik daarop dat belofte-vervulling tereg as teologiese tema van die Ou Testament en die Bybel beskou kan word. Per slot van rekening stel Krüger (2016:1) tereg dat die blote voorkoms van sekere begrippe nie die volle verhaal vertel nie, maar dat dit tog ʼn aanduiding gee van die potensiële belang van ʼn bepaalde begrip as tema. Hiermee word nie beweer dat ʼn bepaalde begrip slegs belang dra as dit gereëld voorkom nie, maar dat voorkoms wel ʼn aanduiding kan gee van die belang van ʼn begrip. Die prominente voorkoms van “Lewe” bied dus wel beweegrede tot verdere ondersoek daarvan as ʼn prominente tema in die Ou Testament.
Collections
- Theology [787]