The history of planning South African new towns: political influences and social principles adopted.
Abstract
Suid-Afrika het baie nuwe dorpe waarvan die meeste as gevolg
van die mynbedryf en groot semi-staat ondernemings soos
YSKOR ontwikkel is. Hierdie nuwe dorpe is beïnvloed deur die
internasionale nuwedorp-beweging. Hierdie referaat poog om die
invloede te analiseer en om die verskille tussen fisiese uitleg en
ideologiese werklikhede uit te wys. 'n Groot gedeelte van Suid-Afrika
se geskiedenis is beïnvloed deur die ontdekking van minerale,
wat grotendeels verantwoordelik was vir die ontwikkeling van
nedersettings. Die ontdekking van diamante in Kimberley in 1869
het bv. 'n massiewe instroming van mense tot gevolg gehad na die
voorheen onontwikkelde binneland. Vroeë ontdekkings van die
mineraalrykdom van Suid-Afrika het ook voorgekom in Pelgrimsrus,
Barberton en Johannesburg, wat almal tot permanente nedersettings
gelei het. Vandag, as gevolg van die tipe mineraalafsettings, is individuele
prospekteurs skaars. Suid-Afrikaanse minerale word deur net 'n
paar mynbedrywe, wat die benodigde finansies en tegnologie besit,
ontgin. Die opening van 'n nuwe myn benodig 'n groot aantal
werkers, wat die voorsiening van behuising noodsaaklik maak,
dikwels in verafgeleë areas. Die konstruksie van myndorpe en die
ontwikkeling van groot semi-staat ondernemings beteken dat die
meeste nuwe dorpe in Suid-Afrika terselfdertyd
ondernemingsdorpe is en hul plasing tot 'n groot mate voorgeskryf
is deur die voorkoms van minerale of grondstowwe. Selfs dorpe
soos Sasolburg en Vanderbijlpark is ondernemingsdorpe wat naby
groot kole-afsettings geplaas is. Die nuwedorpbeweging in Brittanje
en sy voorlopers - byvoorbeeld die dorpe gestig deur die "Enlightened
Industrialists", die tuinstede, en die Amerikaanse
groengordelstede - het almal sterk sosiale beginsels onderliggend.
In hierdie referaat word beweer dat in Suid-Afrika - ten spyte van die feit dat die fisiese vorm van nuwe stede ‘n groot invloed op
Suid-Afrikaanse dorpsuitlegte gehad het - baie min van die sosiale
beginsels toegepas is. Die referaat bevraagteken die geldigheid
van die vervreemding van die fisiese uitleg van die sosiale beginsels
wat dit onderlê. Hierdie referaat bevraagteken ook die
doeltreffendheid om buitelandse uitlegte na te boots by die uitlê
van dorpe.